My liewe Vettie

Vandag het ek jou verloor. My liewe Jack Russell. Ek het al mense hoor sê dat Jack Russells nare diere is. Maar dis nie waar nie. Jou liewe geaardheid was my terapie.

Al was dit vir my swaar om vandag jou vir die laaste paar minute van jou lewe alleen saam met die veearts te los, troos ek myself daaraan dat ek werklik my liefde in daardie laaste ure van jou lewe bewys het.

In jou lydensnag het ek jou pyn bo my eie pyn gekies. Ek het bukkend by jou bly staan en gevryf, al wou my kuite skeur van die pyn. Ek het jou op my skoot laat lê, al sou dit beteken dat my klere vol hare gaan wees, “Dis oukei, my Vettie, dis oukei.”

Vettie. Ek het jou bygestaan en gekoester in daardie ure waar jou hele lyfie saamtrek in stuiptrekkings en jy aanhou en aanhou bewe. Ek het aan jou vasgeklou, sodat jy moet weet terwyl jy huil van pyn: ek het jou líéf.

Jy het altyd so mooi gaan sit vir jou kos. As ek in die middae van skool af gekom het, sou jy my nie met rus laat voordat ons nie eers gespeel het nie en saans kon jy jouself so kostelik toefrommel in die komberse.

Trane het gestroom van my wange terwyl ek jou vashou in daardie ure voor jou dood. My liewe, liewe Vettie, mag jy lekker baljaar in die hemel. Kylie lê vanaand alleen in haar bedjie, maar ek sal mooi na haar kyk, ek belowe.

Tot ons weer sien…

Die groot venster in ons sitkamer

Ons het in ons sitkamer ‘n massiewe venster. Daar is geen gordyntjies en tierlantyntjies voor die venster nie. Dit is óóp. Wat daardie venster so spesiaal maak is die uitsig, want ʼn mens kan die helfte van Pretoria daardeur sien. ʼn Klein spikkeltjie East-Lynne; Pierneefrif; Tom Jenkinsrylaan; Unisa; die Reserwe Bank en dan weer ʼn klein gedeelte van Pretoria -Wes.

Soms as ek hartseer is, veral in die aande, gaan staan ek voor daardie venster. Dan laat ek die realiteit van honderde stadsliggies by my insink. By een van daardie liggies is daar iemand wat lag. Êrens is daar iemand wat huil. Dood. Siekte. En ek besef: ek is maar nét ʼn liggie in hierdie groot stad.

Dit maak nie saak watter paadjie ek in hierdie lewe gaan loop of waar ek my gaan bevind nie, ek sal nie sommer die venster vergeet nie. Dit herinner my om op die uitkyk te wees vir ander mense se pyn en nie net op myself te fokus nie. Dit wys my op die grootheid van God wat die storie by elke klein liggie ken. 

Dalene de Vente

As jou toets in die vistenk val

Ons almal het al gehoor van daardie belaglike verskonings: “Juffrou, my toets het in die vistenk geval,” of “Juffrou my bababoetie het my huiswerk doodgekrap.” Maar wat doen jy as so iets regtig gebeur?

Vrydagaand sit ek in die klas en ons doen groepwerk.
Die onderwerp is die invloed van Suid-Afrika se grondwet op die Graad 1’tjie.

Tussendeur die groepwerk herinner die dosent ons aan die portefeulje wat ons aan die einde van die semester moet ingee.
Die meisie in my groep sug. “Ja,” sê ek, “dit is presies hoe ek voel!”

“Jy verstaan nie…” Die meisie trek ‘n huilgesig. “My hele portefeulje was klaar, maar toe eet die hond my boek op – léttérlík.” Ek lag so hard dat die ander groepe omdraai en my doodkyk met hulle juffrou-oë.

“Hoe?”
“Dit is ‘n Jack Russell. 5 maande oud. My sak was oop, die hond was nuuskierig…need I say more?”
“Wat doen jy as jou hond regtig egtig jou boek opeet?” vra ek. “Wel, die dosent sê ek moet die bewyse bring…”

Dalene de Vente

Skooltoebroodjies, pizza’s en ou tamaties…

Jy weet jy is terug by die skool as jy ʼn kind bekruip wat besig is om sy maatjie se oor te knyp. “Ek sien jou Derick!” Hy kyk om na my en skrik. Dalk is ek wreed of iets, maar daar is niks so lekker soos om ’n boelie uit te vang nie. Derick is daardie tipe: hy knyp sy maatjies se ore. En sodra sy maatjie sy ore terugknyp, dan val hy op die grond neer van pyn en skreeu, “juffrou, juffrou, hy knyp my!” Dit is werklik ʼn uitdaging om hierdie woelwaters lief te hê. Ek is baie bly ek is die student en nie die onderwyser nie.
Daar is iets aan die eerste dag van skool… Iets in die lug, in die atmosfeer. Afwagting. Opwinding. En of jy ʼn onderwyser is, of ʼn kind, jy voel dit.

Juffrou Marie vertel vir haar kinders die skool se reëls op die eerste dag. “Jy mag nie eerste pouse snoepie toe gaan nie. Net tweede pouse.” Om seker te maak almal verstaan, vra sy vir Johan, “So, Johan, mag jy eerste pouse met ʼn hand vol sweets loop wat jy by die snoepie gekoop het?” Johan antwoord selfvoldaan, “Nee juffrou, jy moet TWEE hande gebruik!”
Maandagoggend staan die Graad 1’s in rye op die bakstene voor saalopening. Daar is nie genoeg plek nie, so party kinders moet hulleself maar tussen die pilare probeer inpas. Dit is nogal ’n groot uitdaging vir ’n Graad 1’tjie wat orals kyk, behalwe voor hom. Toe die eerste kind vir die dag in die pilaar vasloop, kry ons hom nog jammer en bewys ons nog simpatie… Maar nadat die derde kind in die pilaar vasloop, en my medestudent haar gesig moet wegdraai omdat sy begin lag…verloor ek ook die stryd. Daar staan ons twee studente toe, terwyl ons wegkyk en wil dubbelvou van die lag.
In die LO-periode speel die kinders ʼn speletjie waar elkeen ʼn spesifieke maatjie het om te vang. Elke nou en dan is daar ʼn seun wat oor die afgebakende gebied hardloop sodat hy nie gevang kan word nie. Die onderwyser sê vir hom, “nee, as jy oor die lyne gaan hardloop, gaan jy outomaties uit die speletjie wees.” Die seun se maatjie gee so spotlaggie en wys met sy vinger na hom terwyl hy sê, “ha ha, jy is tog ou tamaties!”
By etenstyd Dinsdagoggend het Megan lekker pizza. Haar maatjie, Gina, wat langs haar sit, maak haar kosblik oop, net om ’n vervelige konfytbroodjie daarin te vind. Gina het verlangend gekyk hoe Megan ’n stuk pizza in haar mond prop. Gina dink so bietjie na…En dan blyk dit dat Gina ’n meesterbrein is, want die volgende oomblik sê sy vir Megan, “Eeuwh…wat eet jy?” Megan kyk verontwaardig na Gina, “die nie eeuwh nie, dis pizza!” Sy breek vir Gina ’n stuk pizza af. “Proe dit.” En heel tevrede sit Gina toe en smul aan ’n stuk pizza.

Dalene de Vente

Ek wil net skryf

Skryf. Ek het ontdek toe my tannie in Graad 4 vir my ʼn dagboekie met ʼn slot gee. Of eintlik al in Graad 3, die jaar 2003, toe ek vir die eerste keer die Maasdorp-reeks begin lees het. Na die eerste hoofstuk van Stella Blakemore se klassieke storie, het ek besluit: ek wil skryf.

“Ek wil eendag ʼn boek skryf.”

“Wat gaan jou boek se naam wees?” vra my sussie.

“Die meisies van Maasdorp.”

“Dit is plagiaat – jy moet jou eie boek skryf.”

Pla-gi-aat. “O.”

Toe kom Graad 4 en ek kry ʼn dagboekie. En vandaar af was skryf deel van my lewe. My toevlug. Nou as ek terugkyk het ek nie altyd besef hoe groot rol skryf in my lewe gespeel het nie.

Dit is nou 14 dagboekies later… In hoërskool was die opstelle my gunsteling. My liefde vir gedigte was al rede hoekom ek my huiswerk gedoen het. ʼn Paar aanlyn gedigte op Storiewerf en twee selfs gepubliseer in die Beeld.

In 2014 my vra die Aros se bemarkingsbestuurder vir my of ek nie vir die blog wil skryf nie. “Die Arosonnie.” Aros is die instansie waar ek onderwys studeer in Pretoria.

Ja!

So ontvou ʼn seisoen in my lewe wat ek weer van voor af ontdek het: ek wil skryf. As redakteur van Aros se koerant, Die Bordkryt en skrywer van die Arosonnie- blog, het ek ʼn soort passie in my ontdek wat ek nooit vantevore herken het nie.

Daardie gevoel toe die eerste koerant uitkom waaraan ek so hard gewerk het, daardie oomblik toe ek die kreukelpapier in my hande vashou, sal ek altyd onthou. Ek was vir dae lank in ekstase. “Kyk die koerant.” Het ek trots gewys aan almal vir wie ek lief is. “Gee een vir jou oupa en ouma,” het ek altyd vir my medestudente by Aros gesê.

“Moet nooit ophou skryf nie,” het ʼn man eendag vir my gesê. “want dit is die wyse waarop jy in dié wêreld asemhaal.” Die manier hoe ek bly lewe. Die medisyne vir die siekte, die perspektief in die pyn, die salf vir die seer, die verstaan in die eensaamheid.

Ek besef nou dat God dit aan my gegee het. Skryf.

Toe die Aros-seisoen in my lewe verby is, het ek my eie blog oopgemaak, ‘dans en huil met elektroniese ink.’ Jy kan dit nie keer nie. As jy moet skryf, moet jy skryf.

“My woorde is gedagtes wat vanuit die binne-in my wese ontspring en tot simbole op papier verander. My pen se ink stel serotonien op die bladsy vry,” skryf ek eendag op Facebook.

Dit is 2017. Onlangs het ek ʼn werk gekry by ʼn media-instansie. Terwyl ek besig is met artikelnavorsing dink ek: Ek wil net skryf.

Mag ek nooit my hande of my oë verloor nie. Ek wil skryf.

Dalene de Vente

In elke skool kruip daar ʼn humoristiese oomblik weg

Ek help ‘n Graad 3 meisie, Melissa drie periodes ‘n week met wiskunde. Ons sit lekker knus in die hoekie van die klas. Daar kan ons die wiskunde-berg so stilletjies uitklim. Soms betrap ek myself (en vir haar) dat ons albei sit en dagdroom. Dan trek ek vinnig my juffrou sokkies op en sê: “kom Melissatjie, dis amper pouse…”
Tot my frustrasie sit die klas se grootste karnallie, Kobus reg voor Melissa. Verlede week het hy sy gesig heeltemal omgedraai en skielik hard genies dat daar watervalle snot uit sy neus op die grond beland het – ek lieg nie..watervalle…ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. Ek het vinnig afgekyk en Melissa was gelukkig te vasgevang in ‘n geweldige maalsom om iets raak te sien. Ek sien toe uit die hoek van my oog hoe hy rondkyk of iemand anders gesien het. Na so rukkie het hy doodluiters omgedraai en aangegaan met die somme. Ek het myself voorgeneem om nooit weer langs sy stoel te trap nie.

Tog is ek op ‘n manier bly dat Kobus daar voor ons sit. Ek kry die wonderlike geleentheid om my ‘juffrou-kyk’ op hom uit te toets en aan te pas, soos nou die dag toe hy omgedraai het en gesê het: “Sjo, jy’s staaadig Melissa…” In só geval kry hy nét ‘n wrede juffrou-kyk by my. Maar net gister kon ek nie langer my woede beteuel nie. Melissa het al ‘n halfuur lank gevat om ‘n sekere som uit te werk en sy was só naby aan die antwoord toe Kobus omdraai en die antwoord uitskree. Vandag is die dag wat ek hom behoorlik gaan vasvat, dink ek by myself. Ek haal diep asem, rek my oë groot en sê “Me – lissa!” Te laat besef ek my fout. Kobus se oë begin gloei van die stoutigheid en hy bars uit van die lag. “Hahahaha juffrou…hahahaha my naam is nie hahahaha Melissa nie hahahaha” ….totdat ek ook moes begin lag en my kwaai-wees poging in ‘n groot flater verander.

Ek is so effens blind, behalwe wanneer dit by swiets kom. Woensdagoggend stap ek in die klas in en my oë vang onmiddellik die suigstokkie op elke kind se tafel. Ek neem my befaamde assistentposisie in en ek kan sien hoe Marieke, ʼn dogtertjie wat skuins voor my sit, haar suigstokkie beloer… Na ʼn rukkie begin sy dit stadig die suigstokkie oop te maak, maar sy moes êrens té passievol oor die ding gewees het, want skielik vlieg die suigstokkie deur die lug en beland op die grond in tientalle rooi fizz pop skerwe. “Marieke, kry die besem en vee dit op,” sê die juffrou. Die klas gaan aan met hulle werk. ʼn Beweging in die ander hoek van die klas vang my oog en ek kry die front – row seat terwyl ek toekyk hoe Marieke vir Tertius deur die gesig klap met die onderkant van die besem. Tertius begin huil en Marieke staan so onskuldig soos ‘n rooibokkie met die besem in haar hand. “Ag nee, wat nou?” Vra die juffrou. “Juffrou, hy’t vir my gesê ‘HA HA jy het tog nie meer ʼn lollie nie,’ toe klap ek hom met die besem.”

En só, glo ek, kruip daar in elke skool ʼn humoristiese oomblik weg. Van die dogtertjie wat vir jou vertel dat haar pa al so oud is, dat hy ʼn bril moet dra, tot die seuntjie wat vir jou vra of jy geweet het Lionel Messi se vrou se naam is Vurkie…?

( pSST.. hierdie storie het ek in 2014 geskryf. Ek was lus om dit weer te deel)

Dalene de Vente